C.J. Venter is in 1935 in Krugersdorp gebore. Hy sluit in 1954 by Die Transvaler aan as donkerkamer-assistent en begin so sy byna lewenslange verbintenis met die perswese. In 1956 word hy ʼn junior redaksielid van Rooi Rose en dis waar hy fiksie begin skryf. Sy eerste kortverhaal verskyn in 1957 na nege herskrywings. Mettertyd skryf hy ook die rubriek Met pyp en pantoffels onder die skuilnaam Gustav Q Meiring. Hy skryf ook vir Die Brandwag en vir Fleur, ʼn tydskrifbylae in die Sondagblad, Dagbreek. Sy skryfloopbaan kom meer op dreef nadat hy in 1967 by Republikeinse Pers in Durban aansluit. Venter word besturende redakteur van Ster en later ook, vir ʼn tyd, die redakteur van die nuut herleefde Keur. Hy skryf ook kortverhale vir die twee tydskrifte. In 1972 verskyn sy eerste roman, Newels van die Nag. In 1977 word Venter stigtersredakteur van die nuwe televisieblad, Radio en TV-Dagboek. In 1980 besluit hy om voltyds op sy skryfwerk te fokus, en in die daaropvolgende jare verskyn talle kortverhale en vervolgverhale in die bladsye van Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose. In sy laaste jare keer hy terug na die joernalistiek en werk as hoofredakteur van die Farmers' Weekly. CJ Venter is in 2006 oorlede. Venter was een die mees produktiewe skrywers in Afrikaans. Benewens radiodramas en vervolgverhale vir die SAUK, skryf hy meer as 'n duisend kortverhale vir Sarie, Huisgenoot, Keur en Rooi Rose, en veertig romans wat verskyn by Perskor, Human & Rousseau en JP van der Walt (LAPA) uitgewers, beide onder sy eie naam en die skuilnaam Rene Bergh.
阅读完整简历