Vera Wolmarans is in die oorlogsjare op Christiana gebore. Sy het haar skoolopleiding op bothaville voltooi en is 'n paar jaar later getroud. Sy het drie kinders - twee seuns en 'n dogter - en is ook die trotse ouma van 'n paar kleinkinders. Vera is versot op rolprente. Gedurende die eerste nege jaar van haar lewe het haar ouers reg langs die bioskoopsaaltjie gewoon en sy het elke rolprentvertonig bygewoon. Sy besoek die teater gereeld, swem graag en is lief vir die buitelewe.
Oor haar skryftalent sê sy: My pa het vir die geallieerde magte bo in Afrika asook in Italië geveg sodat my ma lang tye enkelouer vir my en my ouer sussie was. Sy was baie lief vir lees en het in die aande ons aan die slaap gelees. Nie kinderverhale nie. Lekker spanningsverhale van Adriaan Roodt en Johan van der Post en ander wie se name ek nie meer kan onthou nie. Sedert my kinderjare het ek graag stories uitgedink en het tallle van my gediggies en verhaaltjies in die skool se jaarblaaie verskyn. Ek het ook boekpryse asook geldpryse vir my skryfwerk gekry. Na my troue was my lewe egter so vol dat ek my skrywery agterweë gelaat het. Noudat my kinders volwasse is, het ek weer tyd om my aandag op my skryfwerk toe te spits en ek vind nou dat die dae te min ure het om alles gedoen te kry.
Op byna vyftigjarige ouderdom is haar droom verwesenlik en haar eerste manuskrip aanvaar. Nou na meer as sestien jaar het die boeke aangegroei tot meer as vyftig. Sy woon deesdae op Parys - 'n rustige lewe.